|
As jy onder die indruk is dat Galileo Galilei ‘n Italiaanse roomys is, dat Eta Carinae die nuutste model Toyota is, dat Betelgeuse ‘n Johnny Depp fliek is, of dat Stephen Hawking ‘n skrywer is van spanningsverhale… wel… dan moet jy dalk een Maandagaand vir ‘n rukkie van die “movie” kanale wegbly en oorskakel na 50/50 om te luister na Professor David Block.
“Nou wie de dinges is die ou Professor nou eintlik om te wil kom inmeng met my romantic comedy op ‘n Maandagaand?”
Nou-ja! Dis seker presies vir hierdie rede dat Kola besluit het om dan maar die Prof in lewende lywe op die Kaleidoskopers en ander niksvermoedende Knysna-ïete los te laat…. en dit nogal op ‘n Saterdagaand.
En die Prof het sommer dadelik na hy so skuins na 8-uur die aand sy verskyning in die Knysna Movie House gemaak het, sy stempel afgedruk. Dit was gou duidelik dat hierdie nie ‘n Maandagaand M-Net movie gaan wees nie. Nee… die Prof vat nie nonsens van ‘n gevroetel met Simba pakkies en popcorn bokse nie! Nog minder van Vodacom en “yebo gogo”!
En toe die stilte neerdaal oor die groot-oog gehoor… begin die Prof praat… en ons intens luister.
Toe hy begin met sy grootword dae as Ortodokse Jood, was daar sekerlik ‘n paar ongemaklike kuggies en Christen fronse. “Wat wil die Joodjie, wat boonop nog ‘n sterrekundige ook is, nou vir ons Christene van Christenskap kom vertel? Seker van die Big Bang en dat my oupa grootjie ‘n bobbejaan was! Jode is mos nie Christene nie… en nog minder wetenskaplikes wat hulle met die sterre besig hou… hulle is mos kastig slim en wil al’s uitredeneer… en alles moet vir hulle sin maak!”
En dit was dan ook so. Dinge moet vir hierdie interessante man met sy strikdassie sin maak… maar dalk nie op die manier waarop ons vooroordele ons voorberei het nie.
Die Joodse Prof het reeds van sy studentedae af baie vrae gehad oor God.
In ‘n artikel op die Internet skryf hy: “As a scientist, I always think logically and I reason things out. That was how my whole search for God began.”
Hy noem dat dit hom gepla het dat hy nie die versekering gehad het dat God ‘n “persoonlike” God is nie. Die Prof skryf ook: “I did know that he was a historical God and that he did deliver our people from the hands of Pharaoh. But that seemed far removed from me in this scientific age. Those were "stories," as it were.”
As ‘n jong man het die saadjies van twyfel verder by hom gegroei: “Where was the personality and the vibrancy of a God who could speak to David Block? If God is truly God, I reasoned, then why had he suddenly changed his character?”
Hy noem dat hy gewonder het of die mens maar net is soos Shakespeare sê, “just as a fleeting shadow to appear and then disappear”.
Die vrae het deur sy jongman-kop gemaal. Wat is ons doel om hier op aarde te leef? Wat is die rede dat ons hier is? Is daar ‘n “Designer” daarbuite?"
In 1976 noem ‘n Professor-vriend, met wie hy baie van sy vrae en onsekerheid gedeel het, aan hom dat daar wel ‘n antwoord is op al sy vrae. Die vriend het aan Prof Block gevra of hy bereid sal wees om met ‘n vriend van hom, wat ‘n Christen predikant is, te gaan gesels. Die predikant het aan hom voorgelees uit Romeine waar Paulus sê: “…that Jesus is a stumbling block to Jewish people, but that those who would believe in Him would never be ashamed”.
En skielik het alles vir hom sin gemaak. Jesus het die profesieë vervul in die Hebreeuse geskrifte waarmee hy grootgeword het. Hy sê dat hy toe eensklaps “geweet het dat hy weet dat hy weet” dat Jesus die Messias is. En net daar in Oktober 1976 gee hierdie onwaarskynlike kandidaat vir Christenskap…‘n Ortodokse Jood wat boonop nog ‘n wetenskaplike is… sy hart vir Jesus.
Die Prof beskryf dit in sy eie woorde as volg: “Paul, before he believed in Jesus, was a student of the great rabbi, Gamaliel. He was a Hebrew of the Hebrews. He had studied. He had examined. Yet, when Paul met the Master face to face, the Master mastered him. The Master mastered me as well”.
En so tussen die vertel van hierdie fasinerende verhaal deur het almal in die Movie House vergeet van hulle chips en popcorn en Nokia 6500’s. Die Prof het gepraat… en ons het geluister … soos goeie studente. Beste Professor… op sy beste!
Die Prof vertel dat die heelal nie altyd bestaan het nie. Volgens hom was daar ‘n definitiewe begin. Hy skryf in ‘n artikel: “Our early universe expanded at just the critical rate to avoid recollapse In fact, leading evolutionists, such as Dobzhansky and others have agreed that there has not been enough time for mankind to have assembled spontaneously within the time span of our universe”.
“And when I studied relativity, relativistic astrophysics, cosmology and all these beautiful areas of mathematics, they pointed me to the fact that this whole universe is masterfully made, finely-tuned and controlled by the Great Designer. The logical next step was to want to meet this Designer face-to-face”.
Die Prof het fasinerende foto’s gewys van reusagtige teleskope en vertel waarom toilette nie ‘n belangrike faktor is in die lewe van ‘n sterrekundige nie. Hy’t vertel dat rooi eintlik koud is en dat blou eintlik warm is... van kosmiese stof en afstande tussen sterre wat selfs die slim ouderlinge van Kaleidoskoop nie kon kleinkry nie. Hy noem dat daar 100 000 miljoen sterre in ons Melkweg is, 6-miljoen keer meer helder as die son. Daar was ooh’s en aah’s toe hy verduidelik hoe die aarde en ons son vergelyk met ander hemelliggame… hoe klein en byna onsigbaar ons Aarde eintlik is in die groot prentjie.
En tog ook … dat klein nie “onbelangrik” beteken nie. Dat die kleine maan die groot son heeltemal kan uitblok oor die aarde. En dat klein en groot vir hom sin maak. En dat God ook belang stel in “klein”… ons klein blou planeetjie met klein mensies op.
En vir daardie Thomasse wat steeds nie glo nie, het die Prof ‘n verdere stelling wat hy maak: “We have astronomical evidence that demands a verdict. And I've examined this evidence, not from an emotional point of view, but from a logical point of view. We've got historical evidence that Jesus, the Jew, lived and died and rose again from the dead”.
Prof Block haal ook ‘n ander buitengewoon intelligente en alombekende figuur aan om sy punt te staaf: “When Albert Einstein was asked by a reporter if he accepted the historical existence of Jesus, he responded, ‘Unquestionably! No one can read the Gospels without feeling the actual presence of Jesus. His personality pulsates in every word. No myth is filled with such life. I am enthralled by the luminous figure of the Nazarene’."
Prof Block sê dat geloof nooit ‘n sprong in die donker is nie, maar dat dit vir hom op bewyse gegrond is. En as hierdie slim man wat al skouers geskuur het met die Nelson Mandela’s en die Stephen Hawkings’s van die lewe, en wat betaal word om kosmiese stof te bestudeer, dit sê… wie’s ek nou om daarmee te stry.
Hy sê dat daar vandag ‘n algemene gevolgtrekking onder sterrekundiges is, selfs die wie nie glo dat Jesus die skepper van alles is nie, dat die heelal nie ‘n ongeluk was nie… dat die “Big Bang” nie ‘n kosmologiese “firecracker” was nie. Hy haal die fisikus Freeman Dyson aan wat sê: “The universe seemed to be acting in anticipation for the appearance of mankind.”
Die Prof se raad vir diegene wat ernstig soekend is na antwoorde is: “Lees die Evangelies. Soos Albert Einstein gedoen het. Soos Isaac Newton gedoen het. Moenie dat jou emosies jou besluit oorheers of vertroebel nie.”
En toe hou die musiek op… en die Prof het klaar gepraat.
Hy was klaar... maar sy boodskap was beslis nie klaar nie. Soos studente uit ‘n klas na ‘n intensiewe eksamen het die Kaleidoskopers en ander Knysna-ïete een na die ander uit die Movie House gedrentel… elkeen met sy of haar eie gedagtes. En baie om oor te dink.
Van Marsmannetjies, die “Big Bang” en oupa-grootjies wat soos ape lyk was daar nie meer sprake nie. Het die Joodse Proffie dalk ‘n paar sesduim spykers ingeslaan by die ingeligte Knysna Christen gehoor? Was dit dalk tog die moeite werd om die ou M-Net fliekie vir ‘n aand op te offer?
En toe weet almal dit… Galileo Galilei is nie Italiaanse roomys nie, Eta Carinae is nie ‘n Toyota nie, Betelgeuse het niks met Johnny Depp uit te waai nie, en Stephen Hawking het nie tyd vir storietjies nie…
… en Jesus is werklik die waarheid… die Prof het so gesê!
“So it is on the basis of logic that we can understand that we live in a universe made by a personal God. It's logic from start to finish”.
– Prof. David Block
(Alle aanhalings uit die Internet artikel, “For Heaven's Sake: A Jewish Astronomer's Odyssey” deur Prof. David Block)
|